2 Aug 2018

Bergfiets Pelgrimstog van Hoop - 13 tot 17 November 2018


Ons beplan om middel November weer ‘n bergfiets pelgrimstog te onderneem van Somerset-Wes na die suidpunt van Afrika by Agulhas.  Ek besef dit is ʼn besige tyd vir baie mense, maar ek neem vrymoedigheid om die program hier te noem.  Dalk het jy die behoefte en tyd om ʼn deel, of die hele pad, saam te doen.  Dit is van Dinsdag 13 tot Saterdag 17 November.  Ons het dit verlede jaar as ‘n proeflopie gedoen en kan dit van harte aanbeveel.


ʼn Pelgrimstog is ʼn unieke geestelike dissipline en ʼn eeue-oue gewoonte van Christene uit verskillende tradisies. Pelgrims doen dit as ʼn geestelike reis of avontuur.  Die tog is daar om ʼn geestelike dimensie in jou lewe te herwin op die eensaamheid van die pad, en in die belewenis van die omgewing, maar ook in die gemeenskap van die pelgrims en herbergiers op die pad.

Deur dit op ʼn fiets te doen, word afstande vinniger afgelê, maar steeds is die klem nie op die bestemming van elke dag nie, maar op die ervaring van die reis.  Dit is nie ʼn “extreme sport” nie en dit gaan nie oor die vinnigste of kortste roete nie.  Daar is tog ook ʼn fisiese uitdaging as deel van die geestelike belewenis – daarom sal die eerste vier dae  8 – 10 ure in die saal kan beteken.  Daar is ook tegniese dele op die bergfietsroetes wat ‘n bietjie vaardigheid verg.  Ons sal wel waar nodig probeer sorg vir  alternatiewe roetes.

Die Bergfiets Pelgrimstog van Hoop het verband met die staproetes Pelgrimstog van Hoop en eindig op dieselfde plek, maar volg sy eie unieke pad wat bergfietse moontlik maak.  Daar is op die eerste vier dae bekende bergfietsroetes as deel van die pelgrimstog. Hiervoor sal plaaslik permitte gekoop word.
Die roete is sodanig dat pelgrimsryers die hele roete;  of net een of meer dae kan saam ry. Die klem is op eenvoud. Ons dra min saam en koop en eet waar ons kom.

Dinsdag 13 November   -  Somerset-Wes tot by Grabouw  (65km)
Ou Schapenberg roete oor Ou Wapad  - A-Z roete van MTO – Nuweland en Groenlandberg – terug tot by Grabouw. Slaap by Trail’s End
Die Ou Wapad - met Somerset-Wes in die agtergrond

Woensdag 14 November – Oak Valley tot Lebanon (104 km)
Die bekende bergfietsroetes van  Oak Valley – Paul Cluver – Thandi – Lebanon.  Slaap by begin van  Lebanon MTB roete – Slaap by Oaklane Cottages.

Donderdag 15 November - Lebanon na Stanford (85km)
Met Elgin Valley Road en Highlands Road verby Iona Wines oor die berg tot by Hermanus – met Karwyderskraalpad tot by Hemel en Aarde Vallei – Hermanus MTB roete tot by Hermanuspietersfontein – deur Hermanus tot by Stanford.  Afhangende van gety kuslangs of binnelands om strandmeer – Slaap in Stanford omgewing.

Vrydag 16 November -  Stanford na Elim (100km)
Stukkie op Caledon pad dan regs verby Beloftebos en Papiesvlei na Uilenkraal. Klipspringer MTB Trail – Baardskeerdersbos – Elim   - Slaap by Elim Guest House.


Elim Gastehuis

Saterdag 17 November - Elim na Agulhas (60+ km)
Verby Wolvengat of alternatief Black Oystercatcher af na Brandfontein.  Van daar ry ons die die laaste paar kilometer strandlangs tot by die Suidpunt van Afrika.
Pelgrimstog sluit hier af.  Ons tref onder mekaar reëlings oor die terugkeer na Somerset-Wes.
Op die strand by Brandfontein

As die lus jou beetpak – gee toe aan die lus en kom saam.  Dit is beslis ʼn nuwe soort belewenis wees.  Die oorslaap-plekke moet bespreek en deposito’s betaal word en plek is beperk.  As jy wil slaapplek kry, moet jy gou laat weet.  Besprekings vir oornagplekke word op 16 Augustus 2018 gedoen.     As jy net wil saamry iewers, laat weet in elk geval dan vertel ons jou meer.

Ons hoor graag van jou en gee graag meer inligting.
Danie Möller  daniemoller@gmail.com   
Evan Marais  evan.marais@aamnucleus.com   

Hoop Geloofsgemeenskap Gholfdag

Belangrike fondsinsameling vir Hoop Geloofsgemeenskap
- aandag gholfspelers en vriende van gholfspelers


Hoop Geloofsgemeenskap bied saam met Ferdi van "Big Brother" faam op 13 September 'n gholfdag aan by Somerset-Wes Buiteklub.
Wat gaan dit oplewer!! - 'n Pretdag.
 'n Dag van vermaak vir die hele gesin en baie nodige fondse vir Hoop Geloofsgemeenskap.
Gert Nagel vertel:
1.  Dit gaan pretdag wees - en hoewel ernstige gholfers welkom is, gaan dit nie noodwendig die wen telling wees wat die eerste prys wen nie.
     (m.a.w. enigiemand is welkom om saam te speel al is dit die eerste keer.)
2.  Snaaks aantrek kan ook vir ’n span mooi pryse wen. (Boetes sal opgelê word indien daar nie ’n poging aangewend word nie)
3.  Die Gholfdag sluit ’n warm ete in asook "snacks" en drankies op die baan en vir R100 ekstra kan die gades en kiddies ook ’n ete en "hotdog" kry.
4.  Daar sal ook vanaf 16h00 Rugby Tots aangebied word vir die kinders by die Gholfbaan.
5.  Buiten die prys uitdeling gaan Ferdi vir ons ’n paar lekker pryse opveil, so enige donasie is welkom . 

Dit is nou die tyd om vierballe in te skryf, gaatjies te borg  en donasies te gee.
Gert Nagel -  0823378699

Koop jou vier-bal of borg 'n gaatjie nou

3 Jul 2017

Hoop Geloofsgemeenskap - Hope Faith Community

'n Opwindende nuwe hoofstuk het hierdie jaar afgeskop.
Hoop Geloofsgemeenskap of Hope Faith Community. Ons Sondagbyeenkomste is by Curro Sitari skool om 10:00.




2 Jul 2013

Ons beur boontoe

Dana Snyman skryf onlangs in Die Burger ‘n artikel oor skole se leuses.    Hy verwys onder andere na die laerskool op Rietbron, diep in die harde Karoo.  Hy stel homself voor hoedat  die mense daar sou gesels oor ‘n leuse vir die skool.  ‘Reik na die sterre’  sou hulle voel, is te pretensieus vir hulle soort wêreld.  ’n Oom met bruingebrande arms staan op  “Hier reik ons nie, kêrels. Hier beur ons,” sê hy.  En so word Laerskool Rietbron se leuse  ‘Ons beur boontoe’.  

Vir baie Christen-gelowiges voel ‘n reik-na-die-sterre geloof net so oneg.  Ons beur ook voort  soos die Rietbronners in ‘n harde wêreld met ons voete op die grond.  Maar ons beur ook boontoe!  

Here, met my voete -op-die grond geloof wil ek u dien.  Ek beur vorentoe en boontoe in my lewe en dankie dat ek weet U beur saam.  Amen

30 Jun 2013

Emmerskoplys

Volgende week op pad na Craft Transalp Mountainbike Challenge. Emmerskoplys geleentheid vir Bergfietsers. Wat 'n voorreg.