29 Apr 2013

David Bosch

Prof David Bosch is pas vereer met die Orde van die Boabab (silwer) deur pres Zuma.  Ek weet nie presies waarvoor die toekenning staan nie, maar ek weet wel dat Bosch se lewe en statuur onder sendingwetenskaplikes wereldwyd erkenning verdien.
Ek het die voorreg gehad om as jong man 'n paar jaar onder sy leiding by UNISA aan die Missionalia te werk.  'n Beskeie werk maar 'n voorreg om deel van missiologiese spitspunt van daardie tyd te kon wees.  Die SA Missiologiese werksgemeenskap was onder sy leiding die res van die land vooruit.  Sy statuur het Suid-Afrikaanse sendingwetenskaplikes verenig en jong Suid-Afrikaners opgewonde gemaak oor die buitengewone ekumeniese kontak, plaaslik,  in Afrika en met verskeie internasionale missioloe in 'n tyd toe die buitewereld so geslote gelyk het.  Sy akademiese insigte was uitstaande en toe die NG Kerk hom telkens oor die hoof sien as dosent, het die politieke inmenging in die kerk my eers ontnugter en toe baie sinies gelaat.
Wat my egter die meeste opgeval het. was Bosch se nederigheid.  Ek sal moeilik vergeet hoe hy vir maande aaneen elke dag met 'n bril met 'n groot bars oor die een lens gewerk het.

Sy boek "Transforming Missions" word na soveel jaar steeds deur studente bestudeer. My gunsteling is 'n bundel lesings aan sendelinge aan die hand van 2 Korintiers, "A Spirituality of the Road".  Dit is ook my reis.

No comments:

Post a Comment