30 Jun 2013

Emmerskoplys

Volgende week op pad na Craft Transalp Mountainbike Challenge. Emmerskoplys geleentheid vir Bergfietsers. Wat 'n voorreg.

24 Jun 2013

Opkyk tyd

Ek het die week ‘n MRI skandering laat doen.  Terwyl ek daar in die tonneltjie stil moes lê, het ek gebid;  en ook gedink hoeveel daar sekerlik in daardie kamertjie gebid word.  Elkeen wat daar ingaan vir ‘n toets het ‘n kommer of onsekerheid wat hom of haar weerloos laat voor die uitslag van die slim masjien.

Dit is in sulke tye van weerloosheid dat ons opkyk na God.  Hoekom is dit nodig dat ons eers aan ons eie broosheid herinner moet word voor ons na God toe draai? Ek dink dit is seker menslik dat ons soms dink ons kan op ons eie regkom in hierdie lewe.  Maar as die stormtyd of die woestyntyd kom, dan het ons die voorreg om na God te kan roep.

Feesvier kom nie natuurlik nie

Ons gereformeerde Afrikaanse  Christene vier  moeilik fees.    
Sondag is die opstandingsdag – maar ons vier bedees en ernstig die gewydheid van die dag.
Goeie Vrydag kry ons goed reg – ons kan saam wroeg oor die swaarkry, maar dan is Paasfees vir ons moeilik.  Ons kry dit baie moeiliker reg.  Ons dink oor feesdae as nog  ʼn  Sabbatdag, en dan verstaan ons Sabbatdag as iets wat ons of tot dooierigheid beweeg of vir die sg. verligtes is dit ʼn dag waarop ons vir die Here goeie dinge moet gaan doen.  Nee, dit is die opstandingsdag oor en oor.  Feesdag – natuurlik nie ʼn werksdag nie – maar ʼn ontspandag,  ʼn vier-dag saam met gelowiges as ons kerk toe gaan , maar ook ʼn geniet van die gawe van die lewe, nou en vir ewig wat ons van God kry.

Hemelvaartdag en Pinkster is ook maar so.  By die fees van die troonbestyging van Jesus Christus knik ons ook maar net instemmend.   Ons kan selfs ons werksdag onderbreek met ʼn biduur of die aand kerk hou, maar eintlik gaan ons maar net aan met ʼn gewone dag.  Dit is nie soos ek wil dink oor my koning nie.  Ek voel vies vir my gereformeerde tradisie wat ons so ʼn preutse streep getrek het.  Raak nie, smaak nie.   Dalk was dit die vroom Skotse predikante soos Andrew Murray wat ons tradisie so kom vorm het.   Christelike Feesvier kom nie meer natuurlik nie.  Kersfees is ʼn nog soms ʼn fees, maar dit is omtrent waar ons stop.