Al sou ek die tale van elke onbereikte volk ken, en ek het nie die Christusliefde vir hulle nie, dan is ek niks nie.
Al sou ek grade en diplomas besit en al die kennis van die sendingwetenskap, maar ek het nie sy liefde wat begryp nie, dan sou ek niks wees nie.
Al is ek bekwaam genoeg om 'n suksesvolle dialoog met aanhangers van ander gelowe te voer en hulle dwalings bloot te le, maar ek het nie sy bekoorlike liefde nie, vermag ek niks nie.
Al besit ek 'n groot geloof met pragtige ideale en wonderlike planne, maar ek besit nie sy liefde wat sweet en bloei, ween en pleit in die gebed nie, dan kom weinig blywends tot stand.
Al deel ek my klere en geld onder hulle uit, maar ek besit nie sy liefde vir hulle nie, dan maak dit weinig indruk.
Al gee ek rooskleurige vooruitsigte prys, verlaat huis en vriende, aanvaar die opofferings van 'n sendeling se lewe, maar het nie die liefde waardeur ek my regte, genietinge en lieflingsplanne oorgee nie, dan is ek nog niks nie.
Al is ek in staat om alle soorte siektes en kwale te genees, maar ek wond harte en maak gevoelens seer as gevolg van 'n gebrek aan sy minsame liefde, dan bring ek geen ware genesing nie.
As ek artikels kan skrywe en boeke publiseer, wat groot lof inoes, maar ek misluk om die woorde van die Kruis in die taal van sy liefde oor te skryf, dan is ek niks nie.
No comments:
Post a Comment